Ons werk is ons roeping!

Toe ek matriek skryf was die begeerte om betrokke te wees by die ontwikkeling van mense, ’n sterk rigtinggewer in my keuse van ’n beroep.

Ek het onderwys studeer en toe vir 9 jaar skoolgehou.  Vier en ’n half jaar daarvan by Jan Kriel Skool waar ek die begeerte om kinders holisties te help ontwikkel, ten volle kon uitleef.

Die einde van my voorbereiding vir waarvoor God my geskape het, was egter nog nie in vervulling.  Met ons skuif na Ceres het ek besluit om nie weer skool te hou nie.  Ek het vir ’n jaar deeltyds in Nduli skool gegee en toe vir ongeveer 2 jaar betrokke gewees by die Landelike Stigting op Ceres.  Deur die ervarings het ek geleer van gemeenskapsontwikkeling en ook van ander kulture.

In die tyd by Landelike Stigting het ek betrokke geraak by Ceres Konsultasie Dienste wat toe ’n maatskappy van CFG was.  Die Landelike Stigting tak op Ceres het gesluit en het ek my eerste volwasse kursus aangebied Junie 1994.

Einde 1996 het Ceres Konsultasie Dienste gesluit en is die eerste tree geneem na wat vandag bekend staan as Anida Training.

Deur Anida Training kan ek my roeping uitleef wat God in my geplaas het en die rede vir my lewe.

Hierdie is die missie van Anida Training wat my lewensroeping verwoord:

Om deur opleiding persone te ontwikkel sodat hulle hul eie potensiaal sal ontdek, en met die nodige selfvertroue groei tot hul volle menswees!  Ons werk is ons roeping.

Anida Training is die voertuig waardeur mense op veral plase, bestuur en werkers, aangeraak en ontwikkel word en waardeur almal wat betrokke is by Anida Training God se Verlossing aan ander verkondig, terwyl ons help om hulself te help om hul volle potensiaal te ontwikkel.

Ek glo dat God ons stuur waarheen ons moet gaan.  Ons werk vanaf Keetmanshoop in Namibia tot Fort Beaufort in Oos-Kaap.  Ons gaan ook nou betrokke raak in Limpopo, Kakamas en KZN.

Anida Training is ’n geakkrediteerde opleidingsinstansie, met ’n kantoor op Ceres.

Vanjaar is die onderneming 20 jaar oud en dankbaar vir baie kilometers afgelê, baie leerders se lewens wat aangeraak is en ontwikkeling en veranderinge wat kon ervaar word.

Dit is ’n voorreg om ons roeping en passie uit te leef wat God in ons harte geplaas het en te weet dis waarvoor God ons geskape het.